Skip to content

Witzenberg PALS Pos: Mei 2022

Witzenbergpalspos

Mei 2022

Beste Witzenberg PALS-lede en ondersteuners

Soos julle weet is Perspective: Inside PALS die nasionale nuusblad wat kwartaalliks wyd in Engels versprei word. Maar ons praat ook graag Afrikaans met ons mense.

Hier is ’n klompie belangrike punte wat ’n groot invloed kan hê op ons pad vorentoe:

Onteiening, onbevoegdheid en oorlog

Daar is vele negatiewe gebeure en faktore, nie net in ons land nie, maar wêreldwyd. Die onnodige Rusland-Oekraïne-oorlog het ’n verreikende invloed op die wêreld, die hele wêreld, insluitende Suid-Afrika. Al is ’n mens so positief as kan kom, kry moedeloosheid maar soms die oorhand. Haal asem, skep weer moed, want ’n boer maak mos altyd ’n plan.

PALS het onlangs vergader met die Nasionale Minister van Landbou oor maniere hóé praktiese oplossings vir sekere knelpunte en uitdagings verkry kan word. Maar, nes Rome, is PALS nie in een dag gebou nie en moes ’n opvolgvergadering gereël word. Daarom is ’n opvolgvergadering nou gereël. Verder gee die afweer van die voorgestelde grondwetwysiging oor onteiening nou ’n geleentheid aan PALS-lede landwyd om te bewys dat die beter alternatief PALS-grondhervormingsprojekte is wat beide nuwe-era-boere en kommersiële boere bevoordeel.

Lego G660f77261 1280

PALS skakel met die Nasionale Minister en Direkteurs-Generaal (DG’s) van verskeie departemente en provinsiale en plaaslike regerings om aktief deel te neem om prosesse te beïnvloed. Die onbevoegdheid en halstarrigheid van amptenare gaan hopelik deels aangespreek word deur ’n nuwe nasionale agentskap, waarin privaatsektorverteenwoordigers saam met regeringsamptenare prosesse gaan koördineer.

Die Minister het op 12 Mei 2022 in haar begrotingstoespraak aan die parlement PALS weer as voorbeeld gebruik van hoe vennootskappe Suid-Afrika se uitdagings, aanspreek.

Onlangs het ’n artikel, “Bou as jy in Suid-Afrika wil bly” in Vrye Weekblad dit gestel dat ons nie ’n ander keuse het as om te verseker dat “ons planne nie opraak nie”. Dit is seker deel van ons DNS om ondanks uitdagings welvaart te probeer skep. Dit is wat PALS, onder andere, vir en namens ons lede help fasiliteer. Ons doen dinge saam en groei saam.

Varke, riool, oorlaste en ander nagmerries

Sedert 2015 is toegelaat dat naby Nduli, op ’n munisipale plaas van 10 hektaar, die mees onhigiëniese praktyke ontwikkel het wat varke ’n slegte naam gee. Na klagtes op dowe ore geval het, het PALS ingegryp en die gemeenskap oortuig om saam te werk om die varkboerdery te formaliseer en die probleme met oorlaste te help oplos.

Nduli Pig Farming, ’n maatskappy met 20 aandeelhouers, is nou ’n PALS-lid en beoog om onwettige boustrukture af te breek en die terrein op te ruim. Nuwe kommersiële varkhokke word beplan en die Departement van Grondsake gaan hopelik die stukkende rioolpyp langs Nduli help regmaak.

Pigfarm950

Barend La Grange help kos aanry tydens ’n besoek aan Nduli.

Witzenberg PALS se direksie het geoordeel dat die projek, as gemeenskapsprojek, ’n prioriteit is om te verhoed dat die probleem al hoe groter raak en tot verdere skade aan omliggende eiendom en slegte verhoudings tussen groepe aanleiding gee. Bouplanne, ’n besigheidsplan en aansoeke vir befondsing by oorsese donateurs word nou gereël. Hopelik gee PALS se betrokkenheid aanleiding tot ’n praktiese en netjiese boerdery wat werk.

Vir meer as 10 jaar was Langboom, die staatsplaas langs Nduli, nie onderhou nie en het dit misluk. Witzenberg PALS is versoek om die opstel en implementering van ’n nuwe besigheidsplan te fasiliteer tot voordeel van die gemeenskap via verskillende sake-eenhede en nuwe werksgeleenthede. Ons wag nou vir sekere goedkeurings van die Departement van Landbou en Grondhervorming.

Om Witzenberg PALS te help met al dié dinge sit Lennox Plaatjies tans weer hand by as bestuurder by die PALS-sentrum en ons hoop om binnekort verdere kapasiteit te kan vestig wanneer sekere aansoeke vir befondsing by Jobs Fund en sekere banke hopelik goedgekeur word.

Eskom, energie en eienaarskap

Electricity

Soos met gebrekkige dienslewering op talle vlakke neem PALS eienaarskap van pogings om praktiese oplossings te implementeer. Die beoogde sonkragplaas en pompstoorskema se omgewingsimpakstudies word nou gedoen. PALS, as sosiale gemeenskapsorganisasie, fasiliteer gesprekke met die Witzenberg-munisipaliteit, Eskom en die regering om die projek te laat vorder.

Riglyne vir projek-implementering

PALS het destyds sekere “enablers” of instaatstellers vir projek-implementering soos hieronder geïdentifiseer. Een of meer van hulle kan in nuwe projekte belangrike opskortende voorwaardes wees.

Erkenning

Presidentialadvisorypanel3

Gesprekke met die minister en nasionale regering oor erkenning aan kommersiële boere wat grond, geld, tyd en hulpmiddele vir SA PALS-projekte beskikbaar maak, vind nou weer plaas. Die Presidensiële Advieskomitee se verslag het dit ook aanbeveel. Lees hier ’n kort uittreksel.

Finansiering

Idc

Die gemengde finansiering (“blended finance”) waarmee tot 40% van die leningsbedrag gesubsidieer kan word, word tans deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) gedoen. Kommersiële banke sal ook binnekort projekte op dié basis kan beoordeel. Ongelukkig sal R500 miljoen in die jaar se begroting nie vreeslik baie projekte kan subsidieer nie, maar sal dit tog baie help.

Water
Die Brandvleidam se keerwal word nou verhoog nadat Witzenberg PALS ook voorleggings aan die Minister van Waterwese gedoen het. Sou lede vashaak met waterlisensies, kan die PALS-sentrum help met skrywes en voorleggings ter ondersteuning van aansoeke. Ons wys nie water aan nie, maar raak waterwys!

Onderverdelings en belasting
Praktiese PALS-oplossings is al in werking en word voortdurend verfyn en verbeter. Gesprekke met departemente en tesourie plaas weer belastingtoegewings op die agenda.

Energie
Selfbou en selfdoen blyk die energie-oplossing te wees en PALS is soos hierbo berig, aktief by die proses betrokke om ’n oplossing vir Witzenberg te fasiliteer.

Infrastruktuur, dienste en ander goedkeurings
Die direksie het ’n subkomitee en taakspan wat saam met die CBI en gemeenskapsleiers die huidige gebrek aan vordering met die munisipaliteit se besluitneming oor ’n aantal sake gaan aanspreek.

SA PALS

Sapalsboard2022

Die SA PALS-direksie bestaan uit twee direkteure elk van Witzenberg, Mpumalanga en Vrystaat, asook Joyene Isaacs as onafhanklike direkteur. SA PALS koördineer tussen die verskillende streke en skakel op nasionale vlak met die regering, banke, donateurs en georganiseerde landbou.

Die nuusblad, Perspective: Inside PALS, die webblad (www.sapals.co.za) en nasionale aksies val onder SA PALS, terwyl Witzenberg PALS en ander streke steeds op grondvlak implementering van projekte, aksies en verhoudinge in elkeen se plaaslike gemeenskap hanteer.

Kommunikasie

Africanfarming2

Twee episodes van African Farming op DSTV  kanaal 162, Mzwansi Wethu, gaan oor twee PALS-boere. PALS kry ook erkenning met elke episode van die reeks as samewerkende rolspeler.

’n Nuwe maandelikse artikelreeks oor PALS in Landbouweekblad, melding in Vrye Weekblad en die versending van Perspective aan ’n wye gehoor, help om die PALS-boodskap, “Growing together” en “Bou so as jy in Suid-Afrika wil bly”, te versprei.

Kortom

PALS is die alternatief vir regdenkende Suid-Afrikaners teen ’n mislukte staat en ’n tipiese Zimbabwe-scenario. PALS fasiliteer die beplanning, motivering en implementering van projekte op ’n wyse wat beide wit en swart boere bevoordeel en hul vrese aanspreek.

PALS is deel van die oplossing en nie deel van die probleem nie. Om aktief betrokke te raak, is nie net die regte ding om te doen nie, dis eintlik die enigste ding om te doen.

Vriendelike groete

GERRIT VAN VUUREN
PALS:  Regs- en Strategiese Adviseur

WITZENBERG PALS  (PARTNERS IN AGRI LAND SOLUTIONS)
Mpy Reg Nr / Co Reg No: 2015/164704/08
Telefoon / Telephone: 023 316 1191
E-pos / E-mail: admin@sapals.co.za
Posbus / P O Box: 79 CERES,  6835
Voortrekkerstraat / Voortrekker Street 84
CERES 6835

Openbare Weldaadsorganisasie Nr / Public Benefit Organisation No:  930 049 981

Back To Top